
=====================================================================
Dans uit vergange se dae (AV 7:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Dans uit vergange se dae

Elias Nel, 'n voordanser van 'n tipiese kontreidans, die riel, plaas di fyn voetwerk in kultuurkonteks.

"WORD die riel nou weer mode? Dis mos oujare se dans daai."

Dit is min of meer die reaksie wat ek kry wanneer ek vra dat die riel by die kultuuraande wat ek rel, gedans moet word. My ondervinding is 
dat veral die jonger mense nie graag met di soort dans geassosieer wil word nie. Miskien omdat daar vroer, en nog plek-plek vandag ook, 
neerhalend daarna verwys is en word as die "hotnosriel". Soos die mantis wat vanwe die goddelike status wat die San aan die insek gegee 
het, vandag as die "hotnotsgot" bekend staan.

Die woord "Hotnot" of dan "Hottentot" het immers ontstaan vanwe die koloniste se onkunde oor die inheemse volke wat hulle aan die Kaap 
aangetref het. Die Khoekhoes het 'n lied gesing waarin die klanke "ho, to, to" voorgekom het. Die koloniste, wat nie moeite gedoen het om 
die volk se naam uit te vind nie, het hulle as gevolg van die lied "Hottentotte" genoem. Dis 'n naam wat vandag nog steeds bly vasklou en 
vernederend vir die afstammeling van die Khoesan is.

Van kleins af was ek gefassineer deur die energietappende dans waar die ooms en anties hoogspring, voetestamp en mekaar speels rondjaag. 
Die liedjies (meesal eie komposisies) waarop die riel gedans word, is eweneens belangwekkend. Verskillende streke het verskillende lirieke, 
maar die wysies bly deurgaans dieselfde. Die liedjies wissel van die versugtinge van ywerige vryers, soos:
 Ta karlientjie, jou boudjie
 jou boudjie hettie foutie.
 Moenie lat hy daaraan vattie
 want hyt nie 'n regte hart'ie.

Of die meer bekende "Lekker ou Jan" wat deur ant Grietjie Adams van Garies bekend gemaak is. Daar is alledaagse pittige sgoed wat ook 'n 
gelate aanvaarding van die soms moeilike lewensomstandighede verwoord, soos:
 Ek is misvloer se hanslamkind
 ek drink die koffie soos jy hom skink.

Ander liedjies gaan oor selfrespek en selftrots:
 Ek dra gelapte broek
 maar ek laat'ie aan my vloek.

Of in 'n ander liedjie word dit s gestel:
 Ek is dik gelap, maar skoon.
 Ja, ek is dik gelap, maar skoon.

Daar is ook die liedjies waarin heldeverering van persone voorkom, soos byvoorbeeld di oor Dirk Ligter, die legende van Calvinia:
 Die witperd van Calvinie
 hy loop maar hy kan nie sien nie.
 O, die witperd van Calvinie,
 hy willie onner 'n anner dien nie.

Die riel het, so vertel die oumense, in die meeste gevalle te doen met 'n liefdespel tussen 'n jong man en meisie. Op die dansbaan (nie 
vloer nie, want die riel word meesal op die oop veld gedans) word hierdie hofmakery uitgebeeld deur diere en insekte na te maak. Die 
oumense het altyd na 'n dans as 'n "speel" verwys, miskien omdat die hofmakery van diere speel-speel nageboots word. Daar is verskillende 
variasies van die riel waarin diere en insekte nageboots word.

* Die Ramgeveg: In hierdie dans "baklei" twee mans soos ramme om die alleenreg oor 'n territoriale gebied te verkry. Die arms word soos 
horings voor die kop gehou en daar word speels na mekaar gestamp en gestoot. Die dans gaan gepaard met hewige voetstampe en wilde 
bokkespronge.
* Die Skoenlapper: Die "Skoenlapper" is 'n uitnodiging om saam te dans wat 'n man aan 'n vrou rig. 'n Kenmerk van die dans is die hewige 
gefladder van die knie wat die skoenlapper se vlerke voorstel en 'n ligvoetse rondspringery. Indien die vrou die uitnoding aanvaar, sal sy 
saam met die man die "Skoenlapper" dans. Op die dansbaan gaan die dans dan gewoonlik oor na die een of ander vorm van die riel.
* Die Bobbejaandans: Di dans word soms kompleet met sterte aan gedans. Die dansers stel 'n klomp bobbejaanmannetjies voor wat om die 
toegeneentheid van 'n wyfie wedywer. Daar is gewoonlik twee of meer mans en een vrou by die dans betrokke. Die vrou trippel ligvoets rond 
terwyl die mans met mekaar "baklei" om eerste by haar uit te kom. Dit kan soms in 'n eienaarige gewriemel ontaard soos die mans se liggame 
in mekaar verstrengel raak. Die persoon wat die ander se aanslae kan afweer en eerste by die "wyfie" uitkom, is die wenner en mag dan 
alleen met haar verder dans. Dit gebeur egter maar weinig.
* Die Lammervanger: Die hofmakery tussen mans en vroue is toentertyd dikwels met die jagproses geassosieer. Die lammervanger wat lammers en 
pluimvee ten prooi het, word in die dans nageboots. Die vrou is die prooi wat met verskrikte hopsprongetjies voor die lammervanger vlug. Sy 
word agtervolg deur die mans, wat met klappende arms en oopgesperde baadjiepante die uitgestrekte vlerke van die vols voorstel.


Benewens die liefdespel is daar ook variasies wat op die alledaagse lewe en die werkomgewing fokus. Hierdie danse kan as volg ingedeel 
word:

* Die Bokwagter: Hier stel die danser 'n bokwagter voor wat met 'n kierie of 'n sweep, maar meestal 'n kierie, die bokke wat hy oppas, van 
gevare af moet wegkeer. Dis sweepslaan met die arms, kierie gooi, hardloop en spring oor die klippe om die uitbundige "boktrop" onder 
beheer te hou.
* Die Perdegalop: Dis trippel, galop en hoogspring soos 'n spoggerige perd nageboots word. Soos in al die variasies van die riel is die 
voetwerk baie belangrik. Soms word luide runnikgeluide ook in die dans gemaak.
* Die Askoekslaan: Wanneer 'n askoek onder die as gebraai word, word dit op 'n sekere manier skoongeslaan wanneer dit uitgehaal word. Die 
askoek word borshoogte tussen die twee hande skoongeslaan. Dit is eintlik 'n soort goltoertjie, want die askoek word na agter in die lug 
opgegooi, gevang en skoon geslaan. Op die dansbaan spring die danser hoog in die lug en klap sy/haar voete teen mekaar. Bedrewe 
askoekslaners kan selfs 'n dubbele askoek slaan voordat hul voete weer grond raak.
* Die Bulsak- of Bulslaan: Sommige mense meen di dans het te doen met die bulsak (matras) en het daarom 'n erotiese konnotasie. Ander meen 
weer dit het bloot te doen met die sandrollery van 'n bul. Die aksie volg in die meeste gevalle op 'n "askoek". Sodra die danser klaar sy 
askoek geslaan het, gaan l hy n die sprong op sy sy. Dan word die agterstewe op en af gewip. Soos die "Askoek: is die "Bulslaan" nie 'n 
dans op sy eie nie, maar word dit in 'n ander dans ingevoeg.


Oor die algemeen gaan die riel om vernuftige voetwerk en hoef die nabootsings, soos hierbo genoem, nie noodwendig deel van die riel te wees 
nie. Daar is nog baie ander variasies van die riel waarvan ek ongelukkig nie kennis het nie. En dit is jammer. So baie van ons 
kultuurskatte het verlore gegaan omdat mense dit nie na waarde geskat het en op die een of ander manier vir die nageslag behoue laat bly 
het nie. Die negatiewe konnotasies het die jonger geslag belangstelling in veral die riel laat verloor. Die elite in ons gemeenskap huldig 
ook die mening dat om mense die riel te laat dans is om hulle tot uitsiglose karikature te degradeer. Miskien nie heeltemal aanvaarbaar 
nie, maar tog verstaanbaar. Ek is ook al dikwels daarvan beskuldig dat ek my mense aan nuttelose waardes verkneg wil hou.

By geleentheid wou Wium van Zyl en George Weideman, albei mense met 'n warm hartklop vir kultuurbewaring, van my weet watter variant van 
die riel ek dans. My antwoord was dat ek "die-alles-in-een-Mams" van die tandepasta-advertensie dans. Ek kombineer die verskillende 
variante van die riel in een enkele dans. S kan ek, veral noudat die litte nie meer so lekker wil saamwerk nie, die moeilike passies 
vermy.

En as hulle my weer vra of die riel dan weer mode word, sou ek graag wou antwoord: Ja, ek glo dit met my hele hart! Elias P. Nel is die 
skrywer van Iets goeds uit Verneukpan? en die huidige voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av7217.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 2000 /// Gee kans! Afrikaans se saak groei wreldwyd (AV 7:2) /// 
Trust het miljoene geskenk (AV 7:2) /// Kursus in Afrikaans (AV 7:2) /// Limeriek I (AV 7:2) /// 'Kom ons lees en laat lees' (AV 7:2) /// 
Limeriek II (AV 7:2) /// Vroeg in nuwe eeu (hoofartikel) (AV 7:2) /// In memoriam Ds. Flip van der Westhuizen (AV 7:2) /// Sebrastrepe s 
hul s vir Afrikaans (AV 7:2) /// Oor Afrikaans klap woord en weerwoord (AV 7:2) /// Tyd van liefh het aangebreek (AV 7:2) /// Man met 
swart baret se woorde rinkink (AV 7:2) /// 'Losing my religion' (AV 7:2) /// Taalslordigheid berokken skade (AV 7:2) /// Limeriek III (AV 
7:2) /// 'Etse! Tjeend gaan met grrawater uit!' (AV 7:2) /// Dans uit vergange se dae (AV 7:2) /// Nergensland (AV 7:2) /// Nag vol 
feeste! (AV 7:2) /// Duitser berig in Afrikaans uit Europa (AV 7:2) /// Staande ovasie vir Afrikaans (AV 7:2) /// Duitse toewyding 
toegespits op Afrikaans (AV 7:2) /// Ambassade reik kosbare CD uit (AV 7:2) /// 'Bubbelbad' borrel (AV 7:2) /// Waar's daai gogga? (AV 7:2) 
/// Wind van voor is niks nuuts nie (AV 7:2) /// Afrikaans en die jeug (AV 7:2) /// Hoe praat jy met tieners? (AV 7:2) /// Onthou om nie te 
vergeet nie (AV 7:2)

